My gedagtes dwaal steeds langs die voetpad
Ver van die geraas van die stad
Waar die jakkalsproof draad ‘n kinkel maak,
Verby waar die wilgertakke aan die waterstroom raak
oor die klipkop, en oor ‘n rotsskeur of twee
deur die lusernland en nog 14 tree
dis waar my gedagtes jou telkens nog vind
net soos dit was toe ek was nog ‘n kind
In die swaai in die koelte, onder die boom
het jy kleintyd gesit en van grootwees gedroom
van ridders en perde en romance en trou
en al wat ek gehad het was ‘n voetpad na jou.
Maar toe begin jy grootword, eers bra begin dra
toe ‘make-up” en “piercings” en toe swot jy al klaar
ek sit toe met ‘n voetpad wat nêrens heen lei
en jy leef in jou wêreld en vergeet heel van my
Nou soek ek ‘n voetpad wat weer na jou loop
want die voetpad van jonkwees laat my nou geen hoop
ek soek nou ‘n voetpad wat loop na jou hart
want gister se voetpad loop nou na smart
weg is die kinkel en vol gate die draad
vrek is die wilger en die somer reën is laat
lusern teen vuilgoed gee lankal bes
en die 14 tree van kleintyd is lankal net 6
waar dooie boomtakke in die westewind waai
vind ek nou net verdroogde blare wat lê in die swaai