Tjellaria
latent lê die lied op die partituur
bevrug swel en groei die geluid
wat wag in die boep van die bruinblink buik
die tjello wat klanke moet puur
vroedkundig en wydsbeen word note verlos
die kromme tjellis buig vooroor
deur kundige stryk word akkoorde gehoor
die tema tenoor uit die bors
die lied van my lyf word deur jou gespeel
as strykstok die snare laat beef
as één sal ons klink, sal ons sonoreer
in ruimte van klank voort bly leef