'n Mens sal nooit werklik liefhê,
so doen die kenners aan die hand
voor jy nie eers 'n slag of wat
jou vingers bietjie brand
Voor jy werklik geluk sal vind,
so word daar gereeld gepreek
sal jou hart verseker eers
'n hele paar keer breek
Sal nooit soete saamwees smaak,
soos 'n mot kom na 'n lamp
Voor jy nie iewers langs die pad
jou tone pot-blou stamp
Voor jy daardie "iemand" vind
wat jou hart weer heel kan maak
sal jy so seker soos "death and taxes"
ook eers baie hartseer smaak
Maar jy het baie lank gelede
as 'n skild teen pyn en smart
'n Brandpad gemaak wat strek
al in 'n sirkel om jou hart
Eerders as om weer 'n kans te vat
en te soek na liefde sonder seer
Dans jy eerder saans alleen
met jou herrinneringe aan weleer
Maak nie saak hoe liefdevure
se vlamme brand en vonke spat
Dit oorbrug nie in die minste
die brandpad om jou hart
Nou staan ek magteloos en toekyk
hoe die inferno wat ek stook
Net eenvoudig nie impak maak
aan die brandpad wat by my spook.
Wees verseker dat 'n mens,
voor jy vorentoe kan gaan
eers etlike kere op jou lewenspad
sal moet verander na 'n ander baan
Voor die afdraand pad sal kom,
wat ons glo die lewe ons mos skuld
Sal ons eers uit moet sukkel
teen menige lang en style bult
Maak dus maar eerder vrede
dat die skerwe van jou hart
soos 'n wynglas wat val
eers in alle rigtings spat
Om jou in staat te stel
om die stukke weer te las
sterker en baie beter
as wat dit voorheen was.
Dog bly jy onbereikbaar ver,
en dink jy is baie veilig daar
agter die brandpad wat jy glo
jou teen hartseer sal bewaar
Jy dink jy kan vir altyd daar
teen liefdes-aanslae skuil
Terwyl jy steeds in die nagte
jouself lê en wakker huil
Nou kan ek maar net vertrou
daar kom 'n draai in die wind
en dat hartstog se hitte tog
uiteindelik hul weg sal vind
Na die warm binnekamers
van jou hart eens so koud
En dat die brandpad toe sal groei
Met 'n welige liefdes-woud.